VINCENT OLIPHANT SE VERSE VLOEI NOG STERK


"Kleur is nie ‘n brandmerk nie; kleur is mooi. Kleur, met of sonder "-ling", is móói…" Selwyn Milborrow het met digter Vincent Oliphant hieroor asook sy digbundels gepraat.

Vincent Oliphant se woordgevoelige verse weerspieël die broosheid van die mens. Dit laat jou met ‘n gevoel van magteloosheid en terselfdetyd ook hoop vir die mensdom. Die temas in sy gedigte is van so 'n aard dat mense hulle daarmee kan vereenselwig.

Hy debuteer in 1983 met Bloed vloei in stilte (Tafelberg) en in 1998 verskyn Die sagte vlees (Tafelberg) wat goeie blootstelling kry danksy die tv-sepie Sewende laan, asook die tv-joernaalprogram Pasella. Hy is tans kurrikulum adviseur by die Departement van Onderwys.
Ek wonder wanneer kom daar ‘n nuwe bundel uit sy pen. ‘n Bundel wat soos welkome reëns die droogte kom breek.

Die volgende oggend bel ek Oliphant en is gelukkig om ‘n onderhoud te reël. Afgesien van sy werk by die Departement van Onderwys, gee hierdie man in sy vrye tyd klas by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit. Hy is ook besig met navorsing in wiskunde-onderrrig. Oppad na sy huis wonder ek wat sy indrukke rondom die derde Swart Afrikaanse Skrywersimposium, en die taaldebat is. Dit was juis by die heel eerste simposium waar die tonge geklap het oor Oliphant se bundel Bloed vloei in stilte omdat dit nie protes-poësie was soos van swart skrywers van daardie tydperk nie.
"Ek was te besig met ‘n struggle van my eie," glimlag hy nederig.

In sy eerste bundel is die aanwesigheid van moeder en broer baie opmerklik. Hoe verskil dit van Die sagte vlees?
"Bloed vloei in stilte was baie na binne gerig; Die sagte vlees daarenteen meer gebalanseerd, meer volwasse."
Wat inspireer hom om te skryf, of verander dit soos mens ouer word?
"Dit bly nog grootliks dieselfde: Liefde, verlange, verlies… die romantiese temas."
Lees hy ander skrywers, en indien wel, wat lees hy?
"Ja, van my gunsteling skrywers is Milan Kundera, John Updike en Andre P. Brink ."
Hy het onlangs saam met sowat 130 Afrikaanse skrywers sy steun aan die beswaarskrif teen dubbelmediumonderrig by die US toegesê. Ek wou weet of die bestaan van Afrikaans bedreig word en of Marius Titus in die kol is met sy gedig "Skryfwerk" waarin hy sê:

"Soe, die beste manier omme taal te bewaar is:
Liesit, praattit, skryffit, ontginnit en bedryffit.
Net soelank jy my verstaan
stap skryf en taal ‘n lang pad saam."

"Ek is nie deel van die totale aanslag denkskool nie. Ek dink nie dat Afrikaans, of enige ander taal, moedswillig benadeel word nie. Benadeling kan egter ‘n onbedoelde gevolg wees. Verder is ek ten gunste van inisiatiewe wat ons veeltalige erfenis beskerm. Taal is immers nie net ‘n kommunikasie medium nie; dit is ook ‘n draer van kultuur. Dit is teen hierdie agtergrond dat ek die beswaarskrif gesteun het."

Na aanleiding van sy brief wat onlangs in Rapport verskyn het lei mens af dat hy trots is om "bruin" en "kleurling" genoem te word. Daarin sê hy "Kleur is nie ‘n brandmerk nie; kleur is mooi. Kleur, met of sonder "-ling", is móói…".

Dink hy daar is belangstelling onder bruines wat hul taal en identiteit betref, en is daar stemme wat opgaan vir 'n ontluikende bruin nasionalisme?
"Ek hou nie van die idee van etniese nasionalisme nie. Dit klink te veel na laer trek, en impliseer ‘n ons-teen-hulle houding. Ek het in my artikel ‘n positiewe inhoud aan bruinwees of kleurlingwees probeer gee. Die negatiewe konnotasies wat aan ons as ‘n groep mense geheg word, soms selfs vanuit eie geledere, het my die laaste tyd gesteur."
Hoe dan so, Vincent? "Ek vermoed dat die voortgesette teenkanting teen die benaming kleurling daarmee te doen het dat die term gemengdheid impliseer.
Gemengdheid word dan, miskien meestal onbewustelik, teenoor suiwerheid gestel. Ek is egter van mening dat gemengdheid of hibriditeit iets positiefs kan wees omdat dit dui op ‘n wyer, ryker herkoms. Ek sou bly wees as ons intellektuele en ander meningsvormers die oormatige sensitiwiteit rondom hierdie kwessie wou laat vaar."

‘n Hoogtepunt vir hom was in 1996 toe hy genooi was om aan die jaarlikse Poetry International Fees in Rotterdam deel te neem. Vir my is hierdie onderhoud met Vincent Oliphant beslis ‘n hoogtepunt in my lewe.
Soos in sy poësie, probeer hy leerlinge se ervaring van wiskunde as vak sover as moontlik vermenslik. Toe ek groet besef ek Vincent Oliphant is bloot ‘n reisiger wie deur sy skryfwerk die reis vir andere so maklik moontlik wil maak.

Hy is digter, akademikus, man, pa, maar bo als is hy mens en medemens.
‘n Uittreksel uit sy gedig "woorde" gee ons ‘n goeie blik van die mens Vincent Oliphant:

"my woorde het nie die byt
van koeëls en grofgeskut nie
nee
my woorde kan bloot bid
en pleit
en wens
medeburgers van die lewe
dat ons van grense sal vergeet
en bloot mens sal wees
en medemens…"

Robert Pearce, Vincent Oliphant, Willem Fransman Jr, Billy Paulsen


Copyright 2010 Selwyn Milborrow

3 comments:

  1. Het die onderhoud baie geniet :-)! Insiggewend.

    ReplyDelete
  2. Moet eintlik se die artikel :-). Dankie vir die gewilligheid om te deel.

    ReplyDelete
  3. ek is eintlik opsoek na 'n ontleding van vincent se gedig getiteld: die skepping van die vrou. Enige bydrae sal waardeer word.

    desmondricketts@ymail.com

    ReplyDelete